Ondersoek die Skrifte (deel 2)

’n Praktiese hulpmiddel om die Skrif beter te verstaan[i]

Search the Scriptures

Liewe lesers, hier is die volgende gedeelte uit die Bybel wat jy kan lees en dan die vrae kan beantwoord na aanleiding van die gedeeltes.

Die volgende dien slegs as ’n aanbeveling vir diegene wat die Skrif beter wil leer ken.

Onthou die volgende punte is belangrik:

  1. Bid voordat jy begin. Erken in nederigheid jou afhanlikheid van God en vra dat die Heilige Gees jou oë sal oopmaak en vir jou geestelike begrip en verstand sal gee.
  2. Lees die Skrifgedeelte voordat jy die vrae lees. Die rede hiervoor is dat jou belangstelling in die gedeelte beperk sal wees tot daardie spesifieke detail waarop die vrae fokus as jy vooraf weet wat die vrae is.
  3. Lees nou die vrae en enige aantekeninge oor die Skrifgedeelte. Dink na oor die Skrifgedeelte in die lig van die vrae wat gevra word.  Probeer dan om die vrae te beantwoord.  Dit sal jou help met vir jou konsentrasie.
  4. Skryf jou antwoorde op die vrae in ’n notaboek neer. Dissiplineer jouself om dit te doen, anders gaan jy dalk net ’n vae begrip hê van wat gevra is.

 

Lukas 1:26 – 38

Lees die Skrifgedeelte.

Kyk weer na verse 31-33 en 35.  Watter kenmerke van die Persoon en sending van die Beloofte Kind kan in die woorde van die engel onderskei word?  Maak ’n lys daarvan.

 

Die Psalms [ii]

Daar word gesê dat die volgende Psalms gepas is vir Kersfees; trouens, in die tradisie van sekere denominasies word hierdie Psalms deel van die eredienste oor die Kersgety: Psalms 19; 45; 85; 89; 110 en 132.

Kies een van bogenoemde Psalms en skryf aantekeninge oor die gepastheid daarvan vir Kersfees.  Met ander woorde: hoe is hierdie Psalms profeties? (Study the teaching in the “proper” psalms for Christmas as prophetic of the events which this festival commemorates.)

N.S.: Ons sal graag hoor van julle wat hierdie oefening gedoen het.  Laat asb. weet as jy voel dit is van waarde… Skakel Rex by 072 124 5830 of stuur ’n e-pos aan rex@abk.co.za.

 

[i] The New Bible Handbook, Editor: G.T. Manley, Published by the Inter-Varsity Fellowship. 1950

[ii] Search the Scriptures, General Editor: Rev. Alan M. Stibbs, M.A.

Advertisements
Posted in Bybel

Openbaring – Gister en Vandag

Openbaring Gister en Vandag

Vir omtrent 15 maande het ek deur die boek Openbaring gepreek.  Aan die einde van die reeks het ‘n paar mense gevra of ek dit in boek vorm kan sit.  Ek het vir die ouderlinge gevra of ek 5 dae kan kry om die preke in boek formaat te verander.  Dit was meer werk as wat ek gedink het.  Die 5 dae was gans te min.  Dit is ses keer geproeflees, en na baie ure voor die rekenaar het ek dit uiteindelik laat druk.  Die boek is op Amazon Kindle beskikbaar teen $1.14, en vir harde kopieë teen R60 elk kan jy my persoonlik kontak (084 699 2030 of i4@absamail.co.za).

Ek glo dat die boek ‘n vars perspektief op Openbaring is.  Daar is ook praktiese toepassings aan die einde van elke hoofstuk.

Posted in Boekresensies, Eindtyd

Die Woord van God op RSG en Radio Kansel

Radio Microphone

Ek is bevoorreg om die laaste klompie jare RSG Dienste en Oordenkings te kon laat uitsaai.  Ook is ek betrokke om elke Dinsdag oggend ‘n Christelike Nuus Kommentaar oor die 07:00 Nuus op Radio Kansel te kan behartig.

Die terugvoer wat ek telkens gekry het, is dat mense op soek is na Bybel prediking.  Ek was eintlik geskok om hulle algemene belewenisse te hoor van baie kerke wat alles behalwe die Bybel predik, en natuurlik ook nie vir Christus sentraal stel nie.

In gevalle het mense selfs van die buiteland af kommentaar gelewer.  ‘n Vrou uit Kanada het per geleentheid haar dank uitgespreek vir die boodskap oor die lug, want sy was by vele kerke, en niemand is ingestel op Bybelse prediking nie.  Tereg is ons leuse  Kol. 1:28:  “Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag.”

Wat my veral getref het, is baie mense in Aftree Oorde wat nie meer in staat is om kerk toe te kan gaan nie, en tevrede moet wees met afgewaterde prediking.  Ek wil dit baie duidelik stel, dit gaan nie oor my nie, maar oor die standaard wat ons as ABK Leraars handhaaf.  Ek het net weer besef dat ons regtig uittroon bo baie ander.  En ek wil nie hierdeur geestelike hoogmoed of arrogansie voorgee nie, maar ek sê dit as ‘n feit.

Soveel mense ken die Baptistekerk glad nie, en ek bid en vertrou dat my deelname daar, ‘n geleentheid is om die ABK te promoveer.  Mag Hy verheerlik word, en mag ons boodskap en ons geliefde ABK die heerlikheid van God die Aardbodem laat vul.

Theuns Pieters

Posted in Verslae

Die Psalm wat jy te min sing

Psalm 93

Daar is sekere stories wat ouers aan hul kinders vertel, wat die kinders nooit sal vergeet nie.  Een so ’n storie is een waar my pa ons vertel het hoe die Skotte in die oorlog sou marsjeer solank as wat die doedelsak speel.  Ek het ook uitgevind dat die doedelsak geklassifiseer was as ’n oorlogswapen.

Ek glo dat die Psalms net so geskryf is sodat ons dit in die stryd kan sing, terwyl ons solank as wat ons dit sing, kan marsjeer.

Dit is verbasend hoe min die Psalms deesdae gesing word, en hoe min daar uit die Psalms gepreek word.  Daar is relatief min  materiaal in die vorm van preke of kommentare oor die Psalms.   Ek is so dankbaar vir die werk van Derek Kidner, Charles Spurgeon en Steve Lawson oor die Psalms.

Die woord “Psalm” dui op die beryming van ’n gedig wat getoonset word, sodat dit gesing kan word.  Die woord beteken letterlik “om die snaar te pluk”. Dus is die verwagting dat dit gesing moet word.

Die Psalms is ’n direkte uitvloeisel uit die persoonlike ervarings van kinders van die Here.  Dawid skryf byvoorbeeld in Psalm 3 oor sy angs en slapeloosheid omdat sy eie seun hom wou doodmaak.  Asaf het weer geskryf hoe hy in die goedheid van God getwyfel het omdat dit partykeer vir hom gelyk het of dit beter gaan met die goddelose as met die kinders van die Here.

Psalm 93 is van onskatbare waarde.  Dit is een van die Koningspsalms waarin God se Koningskap oor alles wat in die wêreld gebeur, geprys word.  Heel waarskynlik is Psalms 93-100 gesing by spesifieke geleenthede waar God se Koningskap bewonder is.

Daar is minstens drie redes waarom ons die Psalms – en spesifiek Psalm 93 –behoort te sing.

[1] Sing Psalm 93 want dit sal jou help om reg te kyk na ’n saak wanneer dit nodig is
Dit is nie moeilik om die doel van Psalm 93 raak te sien nie.  Die Psalm help ons om ’n goeie beeld van God te kry.  Dit help ons om ons aandag op God te fokus en die beste manier om dit te doen, is om dit te sing.  Het jy al opgelet dat dit baie makliker is om sekere teksgedeeltes te memoriseer as jy dit sing?

Tydens my bediening in Sunwardpark het ek die mense uitgedaag om teksverse te memoriseer.  Verskeie mense het na my toe gekom en gesê:  “Dominee, jy moet nie van my verwag om Bybelverse te memoriseer nie, want ek kan nie.”  Dit is egter interessant dat dieselfde mense kan sing:  “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde. Na waters waar daar rus is, lei Hy my heen…..”  En eintlik sing hulle Psalm 23.

’n Ouderling in ons gemeente het eenmaal pampoene geplant.  Tydens ’n storm het die hael die meeste van die pampoene stukkend geslaan.  Hy het my vertel hoe hy deur die landery loop en sing: “Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk, en die lande geen oes lewer nie… NOGTANS SAL EK IN DIE HERE JUBEL, SAL EK JUIG IN GOD MY REDDER!”  Die vers kom natuurlik direk uit Habakuk 3.  Dít het hom gehelp om in sy benoudheid op te kyk na God.  Psalm 93 het presies dieselfde doel: dit wil jou en my help om reg na ’n saak te kyk; om op te kyk na God; om Hom te “sien”.

Verse 3-4 beeld die konteks uit waarbinne ons na God moet kyk.  Dit verwys na dreigende situasies waarin ons onsself mag bevind.  Spurgeon skryf oor hierdie gedeelte: “Men have raged like angry waves of the sea… Observe that the Psalmist turns to the Lord when he sees the billows foam, and hears the breakers roar.”  Onthou jy die keer toe Petrus na Jesus toe wou loop op die see?  Toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword en gesink en uitgeroep: “Here, red my.”  As hy die God van Psalm 93 gesien het, sou hy verstaan het dat God ver bo die storm verhef is.  In daardie gedeelte het dinge letterlik só gebeur om te wys wie Jesus Christus is: Hy is God!

Psalm 93 wil jou te help om al jou aandag op God te vestig en Hom te sien as die Koning oor alles.  Let op dat die Psalmis woorde gebruik soos “bekleed” en “gegord”.  Die Psalm vestig dus ons aandag op wat God aantrek. “Die Here …  beklee Hom met majesteit… Hy omgord Hom met krag.” (1983-vertaling).

Ons het in 1988 in Mafikeng gebly (die ou Bophuthatswana).  Ek was in standerd 4 (graad 6).  Een oggend het ons skaars by die skool gekom, toe die kinders se ouers hulle een na die ander kom haal en huis toe vat.  Daar was ’n staatsgreep.  Ek het nie ’n idee gehad wat dit beteken nie.  Omdat my pa by die Suid-Afrikaanse Ambassade gewerk het, het ’n bussie van die Ambassade my en my boetie kom haal.  Toe ons by die huis kom, was my ma en ’n groep vroue saam, en dit het vir my duidelik geword dat ’n staatsgreep iets ernstigs is.  Die TV het uitgesaai van mense wat geskiet word, en van die weermag wat oral ingryp.

Op ’n stadium moes ek vir my pa-hulle drinkgoed vat waar hulle by die hek gestaan het.  Ons was natuurlik baie veilig in die Ambassade se gronde, maar as 11-jarige was ek maar baie bang.  Om dit erger te maak, het ’n helikopter geland en ’n groep soldate het naby my uitgespring met gewere.  Ek het na my pa gekyk, en ek sal nooit vergeet nie: sy 9mm pistool was onder sy arm, ’n Uzi-geweer onder die ander arm en ’n R4 in sy hande.  Toe ek hom sien, was al my vrees skielik weg.

Dit is maar net ’n eenvoudige illustrasie.  Hoeveel te meer sal ek en jy nie rustig wees as ons God kan sien soos wat Hy is nie?  As ons Hom kan sien: beklee met majesteit en omgord met krag!  In Totius se beryming van Psalm 93, lui die tweede gedeelte van vers 2 en vers 3 as volg:

Rivier en meer het woedend opgebruis,
hul hoog gehef, geklots met groot gedruis.

Maar oor hul, in
die hoogte, sit die Heer,
geweldiger as vloed van storm en meer,
geweldiger as golwe van die see
as Hy van bo Sy stormbevele gee

 

Ons moet Psalm 93 sing, want dit sal ons help om ons aandag op God te vestig.  Die meeste van ons is geneig om, soos Petrus, eerder na ons omstandighede te kyk, in plaas daarvan om na God te kyk.

[2] Sing Psalm 93 want dit sal jou help om reg te dink oor God wanneer jy dit nodig het
Hierdie Psalm is geskryf om ons Teologie te verbeter.  Dit is geskryf om jou te help om reg te dink oor God.  Ons idee van God en wie Hy regtig is, is dikwels verkeerd of skiet ver te kort.  Laat my toe om iets interessant met jou te deel wat jou hiermee sal help.

Ek hoor gereeld dat mense dink dat God beïnvloed word of selfs beperk word deur ons geloof, of wat ons dink.  Die keer toe Petrus in die water begin sink het, het Jesus Sy hand uitgesteek, hom uitgehelp en vir hom gesê: “Klein gelowige, waarom het jy getwyfel?” (Matt 14:31).  Party mense is van mening dat God ons slegs kan help as ons reg glo. Dit is duidelik dat Jesus vir Petrus kon help, ongeag van Petrus se mate van geloof, is dit nie?  Trouens, Matteus 14:33 lees: “Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God”.  Soos ek reeds genoem het, was die doel van hierdie gebeure om Jesus se identiteit te bevestig.  Die dissipels net nodig gehad om Hom te sien vir wie Hy werklik is en om reg oor Hom te dink.

Psalm 93 se doel is om jou en my te help om God beter te leer ken.  Dit help ons dus om te weet hóé om oor God te dink.  ’n Opsomming van Psalm 93:1-4 is: “God is soewerein”:  Hy kan doen soos Hy wil, wanneer Hy wil en met wie Hy wil, sonder dat Hy nodig het om aan enigiemand rekenskap te gee.  God word deur niks en niemand beïnvloed of beperk nie.  A.W. Pink sê: “Divine Sovereignty simply means that God is God”.

A.W. Tozer skryf in sy boek The Pursuit of God:  “What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us”.  Dit is duidelik dat die Psalm ons daarmee wil help.

Verse 3-4 wys dat die Psalmis wil hê ons moet reg dink oor God in terme van die storms en alles wat in opstand kom.  Vers 1 teken God in oorwinningsklere.  Dit verwys na Sy Almag.  Selfs ’n kind sal die beeld van vers 1 kan verstaan as ons sing dat die wêreld vas staan sodat dit nie wankel nie.  Ek is nie presies seker wat die Psalmis se verstaan was van hoe die aarde vas is en hoekom dit nie wankel nie, maar ons weet dat die aarde rond is, en dat dit om ’n as draai en gekantel is teen 23,5 grade.  Weet jy hoeveel kilogram die aarde weeg?  Die slim manne beweer die aarde weeg 6 000 000 000 000 000 000 000 000 kg.

Hebreërs 1:3 sê dat Jesus die hele skepping deur die woord van Sy krag dra.  Die 1983-vertaling sê: “Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.”  Dit gaan my verstand te bowe, want dit sluit in al die sonnestelsels en alles wat geskep is.
Die Psalmis en die Hebreërskrywer is nie besig om te vergroot nie.  Inteendeel, dit is God wat dit hier van Homself skryf, want dit is hoe Hy wil hê ons moet aan Hom dink!

Vers 2 noem dat God ewig is.  Jy kyk na al die dinge om jou en raak benoud, maar vir 6,000 jaar al hou God nog altyd alles in stand.  Niks het verander van jou geboorte af nie.  Dinge is nie moeiliker nie.  Die aarde gaan nie nou ewe skielik wankel nie.  God het Sy Almag bewys en doen dit steeds daagliks.

Verse 3-4 skets God se soewereiniteit, sy koninklike mag, selfs oor iets wat lyk asof dit in opstand kom.  Onthou dat die Bybelskrywers dikwels die waters en die see gebruik het as simbole van dit wat boos en gevaarlik is.  Dit lyk asof hierdie dinge opbruis en in opstand kom en gevaar inhou vir almal.  Die Psalmis skets God egter as: “die Here geweldig in die hoogte!” (vers 4).  Met ander woorde God is verhef oor dit alles.

Psalm 2:1-4 sê:  “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle”.

In Handelinge 4 lees dat Petrus-hulle, toe hulle in die moeilikheid was, saam gebid het.  Toe doen hulle dit waarvoor die Psalms geskryf is:  hulle kyk na God, en hulle dink reg oor Hom.  Hulle haal Psalm 2 aan – God was volkome in beheer; selfs van die dood van Jesus Christus.  Alhoewel dit lyk of Pontius Pilatus en Herodes in opstand kom teen God, het hulle eintlik presies gedoen wat deel was van God se volmaakte raadsplan (Handelinge 4:23-28).

Onthou jy toe Job op ’n stadium eerder wou sterf, toe hy nie kop of stert kon uitmaak van wat aangaan nie?  In Job 38 word God die Berader wat vir Job help.  En God vra vir Job wie die see met deure toegesluit het? Wie het ’n grens daargestel vir die see waaroor hy nie kan gaan nie?  God het vir die see gesê “Tot hier toe en niks verder nie” (Job 38:8-11).

Wanneer jy die golwe voel dreig en jy Psalm 93 sing, herinner dit jou dat God ver verhewe is bo die golwe.  Dit help jou om God te sien met Sy oorwinnings-klere aan.  Dit sal goed wees as jy Psalm 93 elke keer sing voor jy die koerant lees, sodat jy God kan sien, beklee in heerlikheid en omgord met krag!  Psalm 103:19 “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles”.  Hierdie is nie ’n prentjie van ’n god wat in ’n stryd gewikkel is nie.  Dit is ’n beeld van die ware God wat absoluut soewerein in beheer is oor alles!

Dink jy reg oor God?  As jy versoek word om te dink dat God nie in beheer is oor slegte dinge nie, sing Psalm 93.  As jy dink God kan beïnvloed of beperk word deur enige iets op aarde, sing Psalm 93.

[3] Sing Psalm 93 want dit sal jou help om reg te lewe wanneer jy dit nodig het

Vers 5 lees as volg: “U getuienisse is baie betroubaar. Heiligheid pas by U huis, HERE, tot in lengte van dae!”  Hierdie vers help met ons toepassing van die hele Psalm.

Die woord “getuienisse” beteken letterlik die getuienis van God aangaande Homself.  Ons kan God se getuienis aangaande Homself glo.  Moenie jou idee van God se grootheid by mense gaan soek nie, soek dit by God Self; in die Bybel.  Die Skrif berus immers by die integriteit van God self.  Om dit wat God van Homself sê, te betwyfel, is om God se integriteit in twyfel te trek.

Die Heiligheid van God is die enigste gepaste toepassing!  Ons kan niks verkeerd aan God toeskryf nie.  Volgens 1 Johannes 1:5 is God lig, en is daar geen duisternis in Hom nie.  Daar is nie ’n verskuilde agenda by God nie.  Daar is nie ’n “fyn skrif” wanneer dit by God kom nie.  Wanneer ons dus God se getuienisse lees, dan is dit baie betroubaar!

Wat kan jy doen om gehelp te word?

  1. Lees jou Bybel. Dit is die getuienisse van God self.  Dit is God self wat die Psalmdigters geïnspireer het om oor Hom te skryf.
  2. Sing meer Psalms en Bybelse liedere. Sing liedere wat jou aandag op God vestig.  Sing liedere wat ’n hoë siening van God besing (Efesiërs 5:19; Kolossense 3:16).
  3. Leer dit vir ander. Die Psalms is opgeskryf uit mense se ervarings sodat ander daaruit kan leer.  Leer jou kinders om die Psalms te sing.
  4. Bestudeer die lewe van ons Here Jesus Christus. Jesus het gekom om vir ons die Vader te wys.

Dit lyk my ons moet soos die doedelsak hierdie Psalm in die stryd sing sodat ons staande kan bly.  So lank as wat hierdie Psalm in die kerk weergalm, moet dit ons daaraan herinner om vas te staan in die stryd.

Mag Psalm 93 jou help om God te aanskou, om reg oor Hom te dink en om reg te lewe in die lig daarvan.  Mag jy saam met die Psalmis ontdek hoe groot God is en Hom bewonder.

Die volgende woorde is uit die Halleluja boek, lied nommer 7.  Jy kan dit gerus sing op die wysie van “Bly by my Heer terwyl die skemer daal”.

Psalm 93

Die Heer regeer.
Die kleed van heerlikheid
Wat Hom omstraal, is enkel majesteit.
En deur Sy krag, wat enkel triomfeer,
hou alles stand, dit wankel nimmermeer.

U troon, O Heer,
het ewig vasgestaan,
U is die Heer van ewigheid af aan.
Rivier en meer het woedend opgebruis,
hul hoog gehef, geklots met groot gedruis.

Maar oor hul, in
die hoogte, sit die Heer,
geweldiger as vloed van storm en meer,
geweldiger as golwe van die see
as Hy van bo Sy stormbevele gee.

Al is u getui’nis,
Heer, is gans getrou,
beloftewoorde sal U vir altyd hou.
U tempel sal, wat ook om ons vergaan,
net soos U trou, onskendbaar bly bestaan.

 

Psalm 93 in die Bybel

1DIE HERE is Koning; Hy is met hoogheid bekleed. Die HERE is bekleed, Hy het Hom met sterkte gegord. Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie.

2Vas staan u troon van ouds af; van ewigheid af is U.

3Die riviere, o HERE, het verhef, die riviere het hulle gebruis verhef; die riviere verhef hulle geraas!

4Meer as die gebruis van groot, geweldige waters, van die golwe van die see, is die HERE geweldig in die hoogte!

5U getuienisse is baie betroubaar. Heiligheid pas by u huis, HERE, tot in lengte van dae!

Jannie Vosloo

Posted in God

’n Waardevolle les vir kinders (en hulle ouers)

Feathers in the wind

Van skinder en stories aandra, kon niemand vir Henko Hendriks iets leer nie. Hy was die beste.  Dít was totdat ds. Cuyper gekom het…

Sommer die tweede preek van ons nuwe dominee het Henko se gewete aangekla.  Ek onthou nog sy teks soos gister: “So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek.”  Dominee het uit Jakobus 3 gepreek en vers 5 was sy fokus.

Henko Hendriks was Maandagoggend al saam met die hoenders op.  Toe die horlosie agtuur slaan, is hy so vinnig soos die wind straat-af pastorie toe.

“Dominee,” het hy begin, “vandag moet jy my help!”

“Nou hoe so, Henko?” wou dominee weet.

“Dis my los tong, Dominee!  Wat kan ek doen om al die kwaad wat ek gesaai het, ongedaan te maak?”

Ds. Cuyper het sy ken gevryf en stadig begin praat: “Hier is ’n handvol gansdons.  Gaan vanoggend na die huis van elke persoon wat jy te na gekom het deur ’n skinderstorie.  Sit dan ’n veertjie op die drumpel van die voordeur neer, en gaan na die volgende huis – tot jy klaar is.”

Henko is haastig en baie dankbaar daar weg.  Hy het sy taak met ywer aangepak.

Dit was omtrent drie-uur die middag, toe is hy terug by Dominee.

“Ai, Dominee, baie dankie!  Ek het nie gedink dit sal só maklik wees nie.”

“Maar jou taak is nog nie klaar nie,” het Dominee gesê.

“Nie?” wou Henko verdwaas weet.  “Wat moet ek nóg doen?”

“Ek wil hê jy moet nou al met jou spoor langs teruggaan en al die veertjies weer gaan bymekaarmaak en vir my terugbring.”

Henko was verdwaas. “Maar dit is onmoontlik!  Die wind het teen hierdie tyd ál die vere weggewaai!”

“Net so onmoontlik is dit om die woorde wat ons gesê het, ongedaan te maak…  Ek wil vandag vir jou sê wat Jesus vir jou sou gesê het: Gaan heen en sondig nie meer nie!”

Henko het stil-stil omgedraai en huis toe gegaan.  So het hy sy les geleer.  Daar het nie weer ’n skewe woord oor ’n ander mens oor sy lippe gekom nie.

Anoniem

Posted in Christelike lewe, Kinders

Ek behoort aan die kerk

Ek behoort aan die kerk

Wanneer jy luister na mense se verwagting van wat die kerk moet wees en is, kry jy ’n beeld van die kerk wat dikwels nie gebaseer is op wat die Skrif leer nie.  Dikwels sien ons dat die gemiddelde lidmaat se verwagting van die kerk een is wat sy onstaan het uit die behoeftes en begeertes van die mens.  Ons sien ook dat gebruike, tradisies, gewoontes, ens. dikwels die basis kan vorm van die gemiddelde lidmaat se verwagting van wat die kerk moet wees.

In Thom S. Rainer se boekie I am a Church Member (in Afrikaans beskikbaar onder die titel, Ek behoort aan die kerk) sien ons ’n terugkeer na die beginsels van wat die Skrif leer ’n kerk moet wees en hoe die lidmaat daarin inpas.  Die Afrikaanse boekie word uitgegee deur CUM-boeke.  Die werk word heelwat lof toegeswaai deur onder andere Prof. Stephan Joubert, Daniel L Akin (President van die South-Eastern Baptist Theological Seminary), Michael Catt (Sherwood Baptist), Mark Dever (Capitol Hill Baptist Church), Franklin Graham  en vele ander.

As inleiding gee die skrywer vir ons ’n beeld van hoe twee gesinne dieselfde kerk verskillend ervaar, en dit hoofsaaklik a.g.v. hulle eie sienswyses oor wat die kerk is en behoort te wees.   Die een handhaaf die siening van ’n buiteklub waaraan ek behoort en waar ek ledegeld betaal en sekere voordele moet kry.  Die ander sien die kerk as ’n liggaam waaraan ek behoort, waar ek ’n geleentheid het om my Godgegewe vermoëns, gawes en talente te kan uitleef – tot voordeel van die kerk en tot eer van die Here Jesus Christus.

Hierdie boekie is ’n lerende, praktiese boekie wat by studiegroepe en kleingroepe gebruik kan word.  Ná elke hoofstuk is daar vrae wat bespreek kan word en waar daar d.m.v. die Skrif-verwysings gesien kan word wat die Skrif se verwagting is van wat ’n lidmaat in die gemeente se rol is, en hoe die lidmaat betrokke kan wees in die gemeente.

Indien ’n lidmaat hierdie studie ter harte neem, kan hy of sy ’n groot invloed in die gemeente hê om te verseker dat die gemeente waarlik gemeente sal wees soos Christus dit bedoel het.  Die volgende word onder andere voorgehou:

  • Ek sal ’n werkende lidmaat wees. (Die begeerte van elke Predikant)
  • Ek sal ’n lidmaat wees wat verenig. (’n Opdrag in die Woord van God)
  • Ek sal nie toelaat dat die kerk oor my voorkeure en begeertes gaan nie.
  • Ek sal vir my kerkleiers bid.
  • Ek sal my gesin lei om gesonde kerklidmate te wees.
  • Ek sal kerklidmaatskap as ’n geskenk beskou.

Die begrip van die kerk as liggaam geniet in 1Korintiërs 12 en Romeine 12 die hoogste prioriteit.  Dit leer dat die lede, alhoewel hulle van mekaar verskil, tog as ’n eenheid in eenheid moet funksioneer.  Dat die lede mekaar nodig het en nie sonder mekaar kan klaarkom nie, is nie soseer op die verwagtinge van die lede en hulle “behoeftes” gebaseer is nie, maar op die Woord van die Here God.  In Sy Alwetendheid en Alwysheid het Hy die kerk so saamgestel.

Negatiwiteit, skinder, vergifnis en eenheid word aangespreek in die lig van God se Woord.  ’n Dienskneg-gesindheid, die gesindheid van Christus om te dien, is in die liggaam van Christus die kerk, waarvan Hy die hoof is, van kardinale belang.  Hierdie gesindheid moet in elke gelowige heers.

Op bladsy  52-53 van die Afrikaanse vertaling van die boekie vind ons ’n baie insiggewende “openbaring”.  Dit handel oor die dinge wat soms verdeeldheid in ’n gemeente werk. (Ek sal nie daarop ingaan nie, skaf self die boekie aan en lees dit!)

In die hoofstuk:  “Ek sal vir my kerkleiers bid” kry ons ’n kykie in wat soms in die lewens van predikante en kerkleiers gebeur.  Wanneer ons daarna kyk, kan ons sien hoe noodsaaklik dit vir ons is om vir die leierskap in die gemeente te bid – veral vir die predikant.  Bid onder andere vir hom en sy gesin, vir beskerming, vir fisiese en geestelike gesondheid, ens.

Die manne wat die leiding in die gemeente moet neem, moet veral hulle gesinne lei en onderrig in wat die Here Jesus van hulle as gesin, man, vrou en kinders verwag.  Daar mag ook enkellopendes en weduwees in die gemeente wees wat deur die gemeente “gedra” en ondersteun moet word.  Dit is hier waar elke lidmaat betrokke kan wees.

Dit is veral belangrik dat lidmaatskap as ’n geskenk beskou moet word.  ’n Buiteklub-gesindheid is een wat betaal en eis.  Dit is nie die gesindheid waarmee jy aan die kerk moet behoort nie.  Jou gesindheid maak die verskil.  Die ewige lewe is ’n geskenk van die Here God aan jou; so ook die voorreg om aan ’n gemeente te behoort.  Thom S. Rainer beklemtoon in hierdie boekie: “kerklidmaatskap is ’n geskenk”, en hy sê duidelik maar net wat die Skrif leer.

Lidmaatskap van die kerk is ’n heel ander begrip as lidmaatskap van enige ander wêreldse organisasie.

Twee lidmate van dieselfde gemeente kan dieselfde kerk verskillend ervaar.   Die rede hiervoor is die lidmaat se gesindheid en sy of haar bereidwilligheid om in die gemeente te dien.

Is dít wat die Skrif leer?  Het jy die gesindheid van Christus?  Dit maak die verskil.  Jý maak die verskil.

Lourens Badenhorst

 

Posted in Boekresensies, Kerk

‘n Blokkiesraaisel vir Kersfees

Vir diegene wat van Blokkiesraaisels hou, is hier een wat gebaseer is op die Kersgebeure.  Die antwoord op hierdie blokkiesraaisel volg in die volgende uitgawe van Die Goeie Tyding.

Crossword Puzzle and Pen

AF

1 Waar het die wyse manne uit die Ooste voor Jesus gekniel en hulle geskenke gebring?  In ’n _____.
2 Die een waarvan gepraat word in Markus 1:1-2 (die een wat die pad moes voorberei vir die Verlosser se koms).
3 Jesaja 7:14 verwys na Jesus se geboorte.  Wat sou Sy ma Hom noem vlg. hierdie vers?
4 Wie het eerste die goeie nuus gehoor van Jesus se geboorte?
9 Hy was Maria se man.
10 Hoekom was Maria se swangerskap so besonders?  Sy was ’n _____.
12 Hoe het Maria swanger geraak?  Die ___ ____ het oor haar gekom.
13 Miga 5:1 : “ Maar jy, _____-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer.”
14 Een van die name vir Jesus (Jes. 9:5).
21 Jesus sou genoem word die ___ van die Jode.
23 Deur Jesus kan ons die ___ hê.

 

Dwars

2 Vir die Christen gaan Kersfees oor Sy geboorte.
5 Wat het die skaapwagters gehoor die nag van Jesus se geboorte? ’n Engele ___.
6 Maria het op een gery op pad na Betlehem.
7 Waar het die Herders Jesus gevind?
8 Die profetes wat gewag het op die verlossing van Jerusalem.
11 Hy het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel.
15 Johannes die Doper se ma
16 Johannes die Doper se pa
17 Die skaapwagters sou die Verlosser vind in die stad van _____.
18 Hulle het die geboorte van die Verlosser aangekondig.
19 Wie of wat het die besoekers uit die vreemde gelei na Jesus toe?  ’n ____.
20 Die besoekers het daarvandaan gekom.
22 Uit watter stam was Josef?
24 Hulle het by die koning gaan uitvind waar die toekomstige Koning gebore is.
25 Jesus was ongeveer ____ toe die besoekers Hom hulde gebring het.
26 Hy was die koning van die land.
27 Waarheen moes Josef met Jesus en sy ma vlug?

Blokkies Raaisel

 

 

 

 

Posted in Kersfees